Die Vas (#3239)

*Die Aqdas verklaar: ,Ons het julle gebied om te bid en te vas vanaf die begin van rypheid [15 jaar]; dit is deur God verorden, julle Here en die Here van julle voorvaders. . . .Die reisiger, die sieke, diegene wat swanger is of wat soog, word nie deur die vas verplig nie. . . .Bly weg van voedsel en drink niks nie, van sonop tot sonsondergang, en wees op julle hoede dat begeerlikheid julle nie beroof van hierdie genade wat in die Boek bepaal is nie.'

*Die tydperk van die Vas is van en met 2 tot 20 Maart.

 

Ek smeek U, o my God, by U magtige Teken, en by die openbaring van U genade onder die mense, om my nie van die poort van die stad van U teenwoordigheid weg te werp nie, en die verwagtinge nie teleur te stel wat ek op die openbaringe van U genade onder U skepsels gesit het nie. U sien my, o my God, hou vas aan U Naam, die Mees Heilige, die Mees Liggewende, die Mees Magtige, die Mees Grote, die Mees Verhewe, die Mees Roemryke, en kleef vas aan die soom van die mantel waaraan almal in hierdie wêreld en in die wêreld wat kom vasgekleef het.

Ek smeek U, o my God, by U soetste Stem en by U mees verhewe Woord, om my steeds nader aan die drumpel van U deur te trek, en my nie toe te laat om ver van die skaduwee van U genade en die troonhemel van U mildheid verwyder te wees nie. U sien my, o my God, hou vas aan U Naam, die Mees Heilige, die Mees Liggewende, die Mees Magtige, die Mees Grote, die Mees Verhewe, die Mees Roemryke, en kleef vas aan die soom van die mantel waaraan almal in hierdie wêreld en in die wêreld wat kom vasgekleef het.

Ek smeek U, o my God, by die prag van U stralende voorhoof en die helderheid van die lig van U gelaat, wat van die allerhoogste horison skyn, om my met die geur van U gewaad aan te trek, en te maak dat ek van die uitgelese wyn van U woorde mag drink. U sien my, o my God, hou vas aan U Naam, die Mees Heilige, die Mees Liggewende, die Mees Magtige, die Mees Grote, die Mees Verhewe, die Mees Roemryke, en kleef vas aan die soom van die mantel waaraan almal in hierdie wêreld en in die wêreld wat kom vasgekleef het.

Ek smeek U, o my God, by U hare wat oor U gelaat beweeg, net soos U mees verhewe pen oor die bladsye van U Tafels beweeg, en die muskus van die verborge betekenisse oor die koninkryk van U skepping versprei, om my só op te hef om U Saak te dien, dat ek nie sal terugval nie, nòg verhinder sal word deur die suggesties van diegene wat op U tekens gevit het en van U gelaat weggedraai het. U sien my, o my God, hou vas aan U Naam, die Mees Heilige, die Mees Liggewende, die Mees Magtige, die Mees Grote, die Mees Verhewe, die Mees Roemryke, en kleef vas aan die soom van die mantel waaraan almal in hierdie wêreld en in die wêreld wat kom vasgekleef het.

Ek smeek U, o my God, by U Naam wat U die Koning van Name gemaak het, waardeur almal wat in die hemel en op aarde is verruk geword het, om my in staat te stel om my oë op die Dagster van U Prag te vestig, en my te voorsien van die wyn van U woorde. U sien my, o my God, hou vas aan U Naam, die Mees Heilige, die Mees Liggewende, die Mees Magtige, die Mees Grote, die Mees Verhewe, die Mees Roemryke, en kleef vas aan die soom van die mantel waaraan almal in hierdie wêreld en in die wêreld wat kom vasgekleef het.

Ek smeek U, o my God, by die Tabernakel van U majesteit op die hoogste bergspitse, en die Troonhemel van U Openbaring op die verhewenste heuwels, om my genadiglik te help om te doen wat U wil gewens het en U voorneme geopenbaar het. U sien my, o my God, hou vas aan U Naam, die Mees Heilige, die Mees Liggewende, die Mees Magtige, die Mees Grote, die Mees Verhewe, die Mees Roemryke, en kleef vas aan die soom van die mantel waaraan almal in hierdie wêreld en in die wêreld wat kom vasgekleef het.

Ek smeek U, o my God, by U Prag wat bo die horison van die ewigheid voortskyn, 'n Prag waarvoor sodra dit sigself onthul die koninkryk van prag neerbuig in aanbidding, en dit verheerlik met klinkende klanke, om te gee dat ek aan alles wat ek besit mag sterwe en vir wat ook al aan U behoort mag lewe. U sien my, o my God, hou vas aan U Naam, die Mees Heilige, die Mees Liggewende, die Mees Magtige, die Mees Grote, die Mees Verhewe, die Mees Roemryke, en kleef vas aan die soom van die mantel waaraan almal in hierdie wêreld en in die wêreld wat kom vasgekleef het.

Ek smeek U, o my God, by die Openbaarwording van U Naam, die Dierbare, deur Wie die harte van U liefhebbers verteer is en die siele van almal wat op die aarde woon omhoog gesweef het, om my te help om U te gedenk onder U skepsels, en om U onder U mense te prys. U sien my, o my God, hou vas aan U Naam, die Mees Heilige, die Mees Liggewende, die Mees Magtige, die Mees Grote, die Mees Verhewe, die Mees Roemryke, en kleef vas aan die soom van die mantel waaraan almal in hierdie wêreld en in die wêreld wat kom vasgekleef het.

Ek smeek U, o my God, by die ritseling van die Goddelike Lotusboom en die gemurmel van die luggies van U woord in die koninkryk van U name, om my ver weg te verwyder van wat ook al U wil verafsku, en my nader te laat kom aan die stand waarin Hy Wat die Daeraad van U tekens is voortgeskyn het. U sien my, o my God, hou vas aan U Naam, die Mees Heilige, die Mees Liggewende, die Mees Magtige, die Mees Grote, die Mees Verhewe, die Mees Roemryke, en kleef vas aan die soom van die mantel waaraan almal in hierdie wêreld en in die wêreld wat kom vasgekleef het.

Ek smeek U, o my God, by daardie Letter wat, sodra dit uit die mond van U wil gegaan het, die oseane laat golf het, en die winde laat waai het, en die vrugte geopenbaar het, en die bome laat voortspruit het, en alles sluiers uitmekaar laat skeur het, en dié wat aan U toegewy is laat haas het na die lig van die gelaat van hulle Here, die Ongedwonge, om aan my dit bekend te maak wat weggesteek gelê het in die skatkiste van U kennis en verborge was binne die bewaarplekke van U wysheid. U sien my, o my God, hou vas aan U Naam, die Mees Heilige, die Mees Liggewende, die Mees Magtige, die Mees Grote, die Mees Verhewe, die Mees Roemryke, en kleef vas aan die soom van die mantel waaraan almal in hierdie wêreld en in die wêreld wat kom vasgekleef het.

Ek smeek U, o my God, by die vuur van U liefde wat die slaap uit die oë van U gekosenes en U bemindes verdryf het, en by hulle aandenking en lof van U by die aanbreek van die dag, om my saam met diegene te tel wat dit behaal het wat U in U Boek laat daal het en deur U wil geopenbaar het. U sien my, o my God, hou vas aan U Naam, die Mees Heilige, die Mees Liggewende, die Mees Magtige, die Mees Grote, die Mees Verhewe, die Mees Roemryke, en kleef vas aan die soom van die mantel waaraan almal in hierdie wêreld en in die wêreld wat kom vasgekleef het.

Ek smeek U, o my God, by die lig van U gelaat wat diegene wat na aan U is aangespoor het om die pyle van U bevel tegemoet te kom, en diegene wat aan U toegewy is om die swaarde van U vyande in U weg onder die oë te sien, om vir my met U mees verhewe Pen dit neer te skryf wat U vir U vertroudes en U verkorenes neergeskryf het. U sien my, o my God, hou vas aan U Naam, die Mees Heilige, die Mees Liggewende, die Mees Magtige, die Mees Grote, die Mees Verhewe, die Mees Roemryke, en kleef vas aan die soom van die mantel waaraan almal in hierdie wêreld en die wêreld wat kom vasgekleef het.

Ek smeek U, o my God, by U Naam waardeur U na die roepstem van U bemindes geluister het, en die sugte van diegene wat na U verlang, en die geroep van diegene wat nabye toegang tot U geniet, en die gekreun van hulle wat aan U toegewy is, en waardeur U die begeertes van hulle vervul het wat hul verwagtinge op U gesit het, en hulle verlange toegestaan het, deur U genade en gunste, en by U Naam waardeur die oseaan van vergifnis voor U aangesig gegolf het, en die wolke van U milddadigheid op U dienaars afgereent het, om vir elkeen wat na U gekeer het, en die vas deur U voorgeskryf onderhou het, dié vergoeding neer te skryf wat vir diegene beskik is wat nie praat behalwe met U toestemming nie, en wat alles wat hulle besit het in U weg en uit liefde vir U verlaat het.

Ek smeek U, o my Here, by Uself, en by U tekens, en by U helder kentekens, en by die skynende Lig van die Dagster van U Prag, en U Takke, om die oortredings uit te wis van diegene wat aan U wette vasgehou het, en onderhou het wat U vir hulle in U Boek voorgeskryf het. U sien my, o my God, hou vas aan U Naam, die Mees Heilige, die Mees Liggewende, die Mees Magtige, die Mees Grote, die Mees Verhewe, die Mees Roemryke, en kleef vas aan die soom van die mantel waaraan almal in die wêreld en in die wêreld wat kom vasgekleef het.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Die Vas (#3240)

Lof sy aan U, o Here my God! Ek smeek U by hierdie Openbaring waardeur duisternis in lig verander is, waardeur die dikwels besogte Tempel gebou is, en die Geskrewe Tafel geopenbaar is, en die Uitgespreide Rol blootgelê is, om te laat daal op my en op diegene wat in my geselskap is wat ons sal help om in die hemele van U voortreflike heerlikheid op te sweef, en ons sal reinig van die vlek van sulke twyfelinge as wat die agterdogtiges verhinder het om die tabernakel van U eenheid binne te gaan.

Dit is ek, o my Here, wat aan die koord van U vriendelike goedheid vasgehou het, en aan die soom van U genade en gunste gekleef het. Beskik U vir my en vir my bemindes die goeie van hierdie wêreld en van die wêreld wat kom. Voorsien hulle dan van die Verborge Gawe wat U vir die uitgesogtes onder U skepsels beskik het.

Hierdie, o my Here, is die dae waarop U U dienaars beveel het om die vas te onderhou. Geseën is hy wat die vas geheel en al om U onthalwe en met volkome afgetrokkenheid van alle dinge behalwe U onderhou. Help my en help hulle, o my Here, om U te gehoorsaam en U voorskrifte na te leef. U het, voorwaar, krag om te doen wat U verkies.

Daar is geen God behalwe U, die Alwetende, die Alwyse. Alle lof sy aan God, die Here van alle wêrelde.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Die Vas (#3241)

Hierdie, o my Here, is die dae waarop U U dienaars gelas het om die vas te onderhou. Daarmee het U die voorrede van die Boek van U Wette versier wat aan U skepsels bekend gemaak is, en die Bewaarplekke van U gebooie opgeskik in die sig van almal wat in U hemel en almal wat op U aarde is. U het elke uur van hierdie dae met 'n spesiale deug bedeel, ondeurgrondelik vir almal behalwe U, Wie se kennis alle geskape dinge omhels. U het ook aan elke siel 'n deel van hierdie deug toegeken ooreenkomstig die Tafel van U verordening en die Geskrifte van U onherroeplike oordeel. Elke blad van hierdie Boeke en Geskrifte het U, bowendien, aan elkeen van die volke en soortgenote van die aarde toegeken.

Vir U vurige liefhebbers het U, luidens U verordening, op elke dagbreek die beker van U aandenking voorbehou, o U Wat die Heerses van die heersers is! Hierdie is diegene wat deur die wyn van U veelvoudige wysheid só beskonke is dat hulle hulle lêplekke verlaat in hulle verlange om U lof te vier en U deugde te verheerlik, en van slaap wegvlug in hulle ywer om U teenwoordigheid te nader en aan U mildheid deel te hê. Hulle oë is, te alle tye, op die Daeraad van U vriendelike goedheid gevestig, en hulle gelate is gerig na die Fontein van U besieling. Laat reën dan op ons en op hulle uit die wolke van U genade wat die hemel va U liefdadigheid en guns betaam.

Verheerlik sy U naam, o my God! Hierdie is die uur wanneer U die deure van U mildheid oopgesluit het voor die aangesigte van U skepsels, en die poorte van U tere genade aan al die bewoners van U aarde wyd geopen het. Ek smeek U, by al diegene wie se bloed in U weg vergiet is, wat, in hulle smag na U, hulle van alle gehegtheid aan enige van U skepsels vrygestel het, en wat só deur die soet geur van U besieling weggevoer is dat elke enkele liggaamsdeel van hulle U lof besing het en getril het met aandenking aan U, om nie dié dinge van ons terug te hou wat U onherroeplik in hierdie Openbaring beskik het nie - 'n Openbaring die sterkte waarvan veroorsaak het dat elke boom uitgeroep het wat die Brandende Doringbos eertyds aan Moses verkondig het, Wat met U gepraat het, 'n Openbaring wat elke geringste spoelklippie weer met U lof laat weerklink het, soos die klippe U in die dae van U Vriend, Muhammad, verheerlik het.

Hierdie is diegene, o my God, wat U goedgunstiglik in staat gestel het om geselskap met U te hou en met Hom Wat die Onthuller van Uself is gemeenskap te hou. Die winde van U wil het hulle ver en wyd versprei totdat U hulle onder U skaduwee opgegaar het, en gemaak het dat hulle die omgewing van U hof binnegaan. Noudat U hulle onder die skaduwee van die baldakyn van U genade laat vertoef het, help U hulle om te behaal wat so 'n verhewe stand moet betaam. Laat hulle nie toe, o my Here, om saam met diegene getel te word nie wat, alhoewel hulle nabye toegang tot U geniet, teruggehou is van die herkenning van U gelaat, en wat, alhoewel hulle U ontmoet het, U teenwoordigheid ontneem is.

Hierdie is U dienaars, o my Here, wat saam met U hierin binnegegaan het, die Allergrootste Gevangenis, wat die vas tussen sy mure gehou het volgens wat U in die Tafels van U verordening en die Boeke van U opdrag beveel het. Laat daal dan op hulle wat hulle deeglik sal skoonmaak van alles wat U verafsku, sodat hulle geheel aan U mag toegewy wees, en hulself geheel en al mag losmaak van alles behalwe Uself.

Laat reën dan, op ons, o my God, wat U genade betaam en U mildheid pas. Stel ons dan in staat, o my God, om in aandenking aan U te lewe, en om in liefde vir U te sterwe, en voorsien ons van die gawe van U teenwoordigheid in U wêrelde hiernamaals - wêrelde wat ondeurgrondelik vir almal behalwe U is. U is ons Here en die Here van alle wêrelde, en die God van almal wat in die hemel is en almal wat op aarde is.

U aanskou, o my God, wat U dierbares in U dae oorgekom het. U heerlikheid getuig van my! Die stem van jammerklag van U uitverkorenes het deur U hele ryk opgegaan. Sommige is verstrik deur die ongelowiges in U land, en is deur hulle verhinder om nabye toegang tot U te hê en om die hof van U heerlikheid te bereik. Ander was in staat om U te nader, maar is van die aanskouing van U gelaat teruggehou. Nog ander is toegelaat, in hulle ywer om op U te kyk, om die omgewing van U hof binne te gaan, maar hulle het die sluiers van die inbeeldings van U skepsels en die onregte opgelê deur die verdrukkers onder U mense toegelaat om tussen hulle en U te kom.

Dit is die uur, o my Here, wat U elke ander uur laat oortref het en in verband gebring het met die uitgesogtes onder U skepsels. Ek smeek U, o my God, by U Self en by hulle, om in die loop van hierdie jaar dit te beskik wat U bemindes sal verhef. Verorden U boonop, gedurende hierdie jaar, dit wat die Môrester van U krag helder oor die horison van U heerlikheid sal laat skyn, en die hele wêreld deur U oppermag sal verlig.

Maak U Saak seëvierend, o my Here, en verneder U vyande. Teken dan aan vir ons die goeie van hierdie lewe en van die lewe wat kom. U is die Waarheid, Wat die geheime dinge weet. Geen God is daar behalwe U nie, die Altyd-Vergewende, die Almilddadige.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Die Vas (#3242)

Roem sy aan U, o Here my God! Dit is die dae waarop U alle mense gebied het om die vas te onderhou, dat hulle daardeur hulle siele mag reinig en hulself van alle gehegtheid aan iemand behalwe U mag vrystel, en dat dít uit hulle harte mag opstyg wat die hof van U majesteit waardig sal wees, en die setel van die openbaring van U eenheid goed mag pas. Vergun, o my Here, dat hierdie vas 'n rivier van lewegewende waters mag word, en die deug mag oplewer waarmee U dit bedeel het. Reinig U deur sy middel die harte van U dienaars wat die euwels van die wêreld gefaal het om te verhinder om hulle na U alglorieryke Naam te wend, en wat onbewoë gebly het deur die geraas en rumoer van diegene wat U mees luisterryke tekens ontken het, wat die koms van U Openbaarwording vergesel het, Wat U met U oppermag, U krag, U majesteit en heerlikheid beklee het. Hierdie is die dienaars wat, sodra U roepstem hulle bereik het, in die rigting van U genade gehaas het en nie van U teruggehou is deur die lotswisselinge van hierdie wêreld of deur enige menslike beperkings nie.

Ek is hy, o my God, wat van U eenheid getuig, wat U enkelvoudigheid erken, wat nederig voor die openbaringe van U majesteit buig, en wat met neergeslane gesig die luister van die lig van U oortreffende heerlikheid herken. Ek het in U geglo nadat U my in staat gestel het om U Self te ken, Wat U aan die mense se oë deur die krag van U oppermag en vermoë geopenbaar het. Na Hom toe het ek my gewend, volkome losgemaak van alle dinge, en onwankelbaar aan die koord van U gawes en gunste vashoudende. Ek het Sy waarheid en die waarheid van al die wonderbaarlike wette en voorskrifte wat op Hom laat daal is, omhels. Ek het weens liefde vir U n ingewolge U opdrag gevas, en het my vas met U lof op my tong en ooreenkomstig U behae gebreek. Laat my nie, o my Here, getel word onder diegene wat oordag gevas het nie, wat hulle in die nag voor U aangesig neergebuig het, en wat U waarheid nie erken het nie, nie in U tekens geglo het nie, U getuienis weerspreek het, en U woorde verdraai het.

Maak U, o my Here, my oë oop en die oë van almal oop wat gesoek het, sodat ons U met U eie oë mag herken. Dit is U gebod wat ons gegee is in die Boek wat deur U laat daal is op Hom Wat U deur U opdrag gekies het, Wat U vir U gunsbewys bo al U skepsels uitgekies het, Wat dit U behaag het om met U oppermag te beklee, en Wat U besonderlik met U Boodskap aan U mense begunstig en toevertrou het. Geloof sy U dus, o my Here, aangesien U ons genadiglik in staat gestel het om Hom te herken en te erken wat ook al op Hom laat daal is, en aan ons die eer bewys het om die teenwoordigheid te bereik van dié Een Wat U belowe het in U Boek en in U Tafels.

U sien my dan, o my God, met my gesig na U toe gekeer, omklem standvastig die koord van U genadige voorsienigheid en vrygewigheid, en kleef aan die soom van U tere seëninge en milddadige gunste vas. Ek smeek U, vernietig nie my verwagtinge nie om dit te bereik wat U vir U dienaars beskik het wat na die omgewing van U hof en die heiligdom van U teenwoordigheid gedraai het, en die vas uit liefde vir U onderhou het. Ek erken, o my God, dat wat ook al van my af uitgaan U oppermag heeltemal onwaardig is, en U majesteit nie behaal nie. En tog smeek ek U by U naam, waardeur U Uself geopenbaar het, in die heerlikheid van U mees voortreflike titels, aan alle geskape dinge, in hierdie Openbaring waardeur U, deur U mees luisterryke Naam, U prag aan die dag gelê jet, om my te drinke te gee van die wyn van U genade en van die suiwer drank van U begunstiging wat vanuit die regterhand van U wil uitgestroom het, dat ek my blik só op U mag rig en só van alles behalwe U losgemaak mag wees, dat die wêreld en alles wat daarin geskape is voor my soos 'n snel verbygaande dag mag voorkom wat U U nie verwaardig het om te skep nie.

Origens, smeek ek U, o my God, om vanuit die hemel van U wil en die wolke van U genade, dit te laat reën wat ons van die hinderlike geur van ons oortredings sal reinig, o U Wat Uself die God van Genade genoem het! U is, voorwaar, die Allerkragtigste, die Alglorieryke, die Heilsame.

Verwerp hom nie, o my Here, wat na U gekeer het nie, en laat hom wat nader aan U kom nie ver van U hof verwyder wees nie. Verydel nie die verwagtinge van die smekeling wat sy hande verlangend uitgestrek het om U genade en gunste te soek nie, en ontneem nie U opregte dienaars die wonders van U tere barmhartigheid en vriendelike goedheid nie. Vergewend en Mees Milddadig is U, o my Here! U het die vermoë om te doen wat U behaag. Almal behalwe U is magteloos voor die openbaringe van U mag, is soos verlore teenoor die bewyse van U rykdom, is soos niks wanneer vergelyk met die openbaringe van U oortreffende soewereiniteit, en is ontbloot van alle sterkte wanneer van aangesig tot aangesig met die tekens en blyke van U krag. Watter skuilplek is daar buiten U, o my Here, waarna ek kan vlug, en waar is daar 'n toevlug waarheen ek kan haas? Nee, die sterkte van U mag is my getuie! Geen beskermer is daar behalwe U nie; geen plek om na te vlug buiten U nie; geen skuilplek te soek behalwe U nie. Laat my, o my Here, die goddelike soetheid van U aandenking en lof proe. Ek sweer by U mag! Wie ook al van sy soetheid proe sal hom onstlae maak van alle gehegtheid aan die wêreld en alles wat daarin is, en sal sy gesig na U toe rig, gereinig van aandenking aan almal behalwe U.

Vuur dan my siel aan, o my God, met U wonderbaarlike aandenking, dat ek U naam mag verheerlik. Tel my nie onder diegene wat U woorde lees en faal om U verborge gawe te vind nie, wat, soos deur U verorden, daarin vervat is, en wat die siele van U skepsels en die harte van U dienaars verlewendig. Laat my, o my Here, onder diegene gereken word wat tot só 'n mate deur die soet geurigheid aangegryp is wat in U dae gesweef het, dat hulle hulle lewens vir U neergelê het en na die toneel van hulle dood gehaas het in hulle verlange om op U prag te tuur en in hulle hunkering om U teenwoordigheid te bereik. En sou iemand vir hulle op hulle pad sê, ,Waarheen gaan julle?' sou hulle sê, ,Na God, die Alles-Besittende, die Hulp in Gevaar, die Selfbestaande!'

Die oortredings deur diegene begaan wat hulle van U afgewend het en hulle met hoogmoed teenoor U gedra het, het nie gebaat om hulle te hinder om U lief te hê nie, en om hulle aangesigte na U te rig nie, en in die rigting van U genade te draai nie. Hierdie is hulle wat deur die Menigte in die hoogte geseën is, wat verheerlik is deur die bewoners van die ewigdurende Stede, en oorkant hulle deur diegene op wie se voorhoofde U mees verhewe pen geskrywe het: ,Hierdie! Die Mense van Bahá. Deur hulle is die glanse van die lig van leiding gewerp.' Aldus is dit op U bevel en deur U wil bepaal in die Tafel van U onherroeplike verordening.

Maak dus, o my God, hulle grootheid en die grootheid van diegene bekend wat, terwyl hulle op die aarde gelewe het of ná die dood, rondom hulle gedraai het. Voorsien hulle van dit wat U vir die regverdiges onder U skepsels beskik het. Sterk is U om alle dinge te doen. Daar is geen God behalwe U nie, die Alkragtigste, die Hulp in Gevaar, die Almagtige, die Mees Milddadige.

Bring nie ons vaste met hierdie vas tot 'n einde nie, o my Here, nòg die verbonde wat U gesluit het, met hierdie verbond. Neem U alles aan wat ons uit liefde vir U gedoen het en ter wille van U behae, en alles wat ons onverrig gelaat het as gevolg van ons onderworpenheid aan ons slegte en verdorwe begeertes. Stel ons dan in staat om standvastig aan U liefde en U welbehae vas te kleef, en bewaar ons teen die kwaad van diegene wat U ontken het en U mees luisterryke tekens verwerp het. U is, in der waarheid, die Here, van hierdie wêreld en van die komende. Geen God is daar behalwe U nie, die Verhewene, die Allerhoogste.

Verheerlik U, o Here my God, Hom Wat die Oorspronkelike Punt is, die Goddelike Verborgenheid, die Ongesiene Wese, die Daeraad van Goddelikheid, en die Openbaarwording van U heerskappy, deur Wie al die kennis van die verlede en al die kennis van die toekoms duidelik gemaak is, deur Wie die pêrels van U verborge wysheid blootgelê en die verborgenheid van U kosbare naam onthul is, Wat U aangestel het as die Aankondiger van die Een deur Wie se naam die letter W en die letter S saamgevoeg en verenig is, deur Wie U majesteit, U soewereiniteit en U mag bekend gemaak is, deur Wie U woorde laat daal is, en U wette met helderheid uiteengesit is, en U tekens versprei, en U Woord gevestig is, deur Wie die harte van U uitverkorenes ontbloot is, almal wat in die hemele was en almal wat op die aarde was versamel is, Wat U 'Ali-Muhammad in die koninkryk van U name genoem het, en die Gees van Geeste in die Tafels van U onherroeplike verordening, Wat U met U eie titel beklee het, aan Wie se naam alle ander name op U gebod en deur die krag van U mag gelaat terugkeer is, en in Wie U al U kenmerke en titels hulle eindelike volmaaktheid laat bereik het. Aan Hom behoort ook sodanige name as wat binne U vleklose tabernakels verborge gelê het, in U onsigbare wêreld en U geheiligde stede.

Verheerlik U, origens, diegene wat in Hom en in Sy tekens geglo het en na Hom gekeer het, onder dié wat U eenheid in Sy Daaropvolgende Openbaarwording erken het - 'n Openbaarwording waarvan Hy in Sy Tafels melding gemaak het, en in Sy Boeke, en in Sy Geskrifte, en in al die wonderbaarlike verse en woorde soos juwele wat op Hom neergedaal het. Dit is hierdie selfde Openbaarwording Wie se Verbond U Hom gebied het om te vestig voordat Hy Sy eie Verbond gevestig het. Daarin is Sy voortreflikheid opgehemel, en Sy waarheid bevestig, en Sy oppermag bekend gemaak, en Sy Saak tot volmaaktheid gebring. Geluksalig is die man wat na Hom toe gekeer het, en die dinge wat Hy gebied het vervul het, o U Wat die Here van die wêrelde en die Begeerte is van almal wat U geken het!

Geloof sy U, o my God, aangesien U ons gehelp het om Hom en by hulle Wat die Daerade van U Goddelikheid is, en die Openbaarwordinge van U Heerskappy en die Skatkamers van U Openbaring, en die Bewaarplekke van U besieling, om ons in staat te stel om Hom te dien en te gehoorsaam, en ons te magtig om die helpers van Sy Saak en die uiteenjaers van Sy teenstanders te word. Kragtig is U om alles te doen wat U behaag. Geen God is daar behalwe U nie, die Almagtige, die Alroemryke, die Een Wie se hulp deur alle mense gesoek word!

-Bahá'u'lláh
-----------------------

